OUMA EN MEINA
Ouma Hattingh is in die negentiende eeu in Cradock gebore – in ’n ander tydperk. Oupa het van Tarkastad af gekom, waarheen sy voorvaders uit Kaap die Goeie Hoop getrek het. Hulle is vroeg in die twintigste eeu getroud en het in Cradock gaan woon.
Om ’n huis in daardie dae in te rig was ’n groot onderneming. Daar was nie supermarkte om die hoek met bevrore hoenders en sulke geriefies nie. Nee, jy moes self die slagwerk doen, die binnegoed uithaal en die vel afslag. Dit was harde werk. ’n Huishulp was nie ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid. So het dit gebeur dat die jong Miena kort na hulle huwelik deel van die huishouding geword het en ’n werksverhouding daargestel het wat Oupa oorleef het en Ouma amper ook. Albei van hulle is uiteindelik uit daardie huis uit begrawe.
In daardie rustige tyd is die nodige lewensmiddele gekoop deur Miena met ’n briefie na die plaaslike winkels toe te stuur. Later het die luuksheid van ’n telefoon Miena se taak ietwat makliker gemaak. Selfs in die dae van die briefie was die nodige goedere nie altyd dadelik beskikbaar nie en moes dit later deur’n fiets afgelewer word.
As dit by kosmaak kom, was Ouma ’n ervare meester. Sy het pannekoek nog op ’n primus gebak. Sy sou hulle met suiker en kaneel besprinkel en die suiker laat smelt. En koeksisters! Wat ’n treffer! Ek het staan en kyk hoe sy die deeg in die tradisionele vorm vleg. Dit sou dan in ’n viergelling-paraffienblik vol vuurwarm olie op die primus gedompel word. Langs die primus het nog ’n viergelling-paraffienblik vol yskoue stroop van suiker en water gestaan. As die koeksisters gaar is, is hulle dadelik onder die stroop gedompel en daar gelaat totdat die stroop die hele koeksister deurtrek het.
Terwyl die bakkery aan die gang was, het Miena skottelgoed gewas asof haar lewe daarvan afgehang het. Water moes hiervoor gekook word, want daar was geen elektriese warmwatertoestelle nie. Ek onthou dat ek by die agtsitplektafel gesit het wat ’n ereplek in die kombuis ingeneem het terwyl Ouma gebak en Miena opgeruim het. Op koue oggende is ’n warm teemus vir my gegee nadat die tee geskink is sodat ek my hande daarin kon warm hou. Stampmielies in ’n blik kon ek gebruik om patrone op die tafel uit te pak terwyl ek toekyk.
Soms sou Ouma van die vet van die skaapvleis afsny en dit in ’n pan braai tot dit kraaklekker kaiings word, heerlike brokkies bros vet. Ek onthou ook dat die vet van ’n gebraaide skaapboud in die yskas gebêre sou word. Dit word met sout en peper in die plek van botter op heerlike vars brood gesmeer – ’n smulhappie duisend!
Middagetes op Sondae was iets besonders. Ek het altyd gewonder waar die leërmag vandaan sou kom wat Ouma van kos sou voorsien, maar sy het volgehou dat mens nooit weet wanneer besoekers opdaag wat saam sou moes aansit nie. Ek onthou een aand toe dit wel gebeur het. Miena is anders as gewoonlik gevra om aan te bly en met die skottelgoed te help. Sy het laat klaargekry en so het ek en my oom haar teruggeneem lokasie toe. Ek onthou goed hoe beïndruk ek was met haar nederige huisie. Dit was blinkskoon van binne en ongelooflik goed georganiseer. Ek het gewonder of dit Ouma se invloed was.
Maar ek wyk af. Daar was niks van ’n voorgereg of wyn aan tafel nie. Die hoofgereg was gewoonlik ’n skaapboud en ’n hoender – so groot dat die hoenders in die supermark soos dagoud-kuikens lyk. Dan was daar die “bykos” wat bestaan het uit rys, gebakte aartappels, boerbone, kool, pampoen, skorsies, ’n beetslaai, ’n wortelslaai en my gunsteling: perskes en souskluitjies. Dit was gekookte droëperskes met die kluitjies bo-op. Saam met skaapvleis en aartappels was dit vir my ontsaglik heerlik. Dan was daar nagereg. Idealmelk, ingelegde perskes, ingelegde pere, blamaans of jellie, en op spesiale dae my gunsteling “nasionale” poeding. Ek kan nie goed onthou wat alles daarin was nie, maar daar was rosyne en appelkooskonfyt, ’n stewige kors en ’n oorvloed heerlike sous. Miena en haar bure het goed gedoen met die magdom oorskiet.
In later jare het Ouma ’n kat gekry met die naam Optel, wat sommer aandui hoe die kat by Cawoodstraat aangekom het. By geleentheid het die kat se etes uit verband geraak met die gesin s’n en dan was ’n besoek aan die plaaslike slaghuis nodig om ’n pennie se katvleis te kry. Nou moet ek vir jou sê dat die vleis wat hulle deesdae in ’n moderne supermark “kookvleis” noem, baie sleg vergelyk met ’n pennie se katvleis by ’n slaghuis in Cradock in daardie dae. Die ongemaklike afleweringsman moes staan en wag terwyl Ouma die groterige pakkie oopmaak en elke stukkie vleis vir sening of vet deursoek. Miena het stilweg hand-voor-die-mond op die agtergrond gestaan en giggel. Wee die arme skepsel as daar tekens van enige van die twee in die kat se vleis was. Sy sou die pakkie toerol, dit in die houer van die afleweringsfiets teruggooi en die afleweringsman aansê om vir sy baas te gaan sê: “My kat eet nie kak nie!” Ek onthou ook die hartseer dag toe arme Miena na negentien goeie jare die pad na die apteker toe moes aandurf met die kat in ’n graansak. Daar was nie ’n vee-arts nie en die apteker was die doodsengel, of is dit die engel van genade, vir ’n kat waarvan die liggaam nie meer met die lewenskrag wou saamwerk nie.
Miena was natuurlik op die toneel toe al drie kinders gebore is. Al vier, om die waarheid te sê, maar “oorle boetie” is in die griepepidemie van 1918 dood. My pa was die oudste. Huisskoonmaak was ’n daaglikse taak, en dit het ingesluit dat die plaveisel voor die huis gevee word en seker gemaak word dat daar nie dennenaalde in die geute is nie. As die huis eers skoongemaak is, was die voordeur verbode terrein vir almal behalwe die dominee. Wee enige van die kinders of kleinkinders wat hierdie reël probeer oortree het. Miena sou hulle aanpraat en agtertoe jaag en selfs die grootmense sou gedwee meedoen. Ek was blykbaar die enigste uitsondering op hierdie reël. Maar onthou, ek was die oudste kleinkind, en dit was baie spesiaal. Ek was skaamteloos die witbroodjie. Op stuk van sake was ek die hoofdraer van die stamlyn. Ek het nooit vasgestel wat Ouma daarvan gedink het dat my naam die familie-tradisie verbreek het nie.
Miena se lewe was een van orde en roetine. Maandag was wasdag. In die agterplaas was daar ’n reusewasklip op twee kort betonmuurtjies. Dit was die “wastafel”. Met behulp van ’n enorme sinkbad en hierdie wasklip het Miena elke Maandagoggend die wasgoed so wit gekry dat selfs Omo sou bloos. Die reël was dat al die wasgoed gedoen en aan die draad gehang moes word voordat die son sy kop uitsteek. As jy al ooit ’n oggend in die Karoo belewe het, sal jy begrip hê vir die opoffering wat dit gevra het om by hierdie roetine te hou. Op Dinsdagoggend is die wasgoed natgespat. Dit het beteken dat Miena elke stuk met water besprinkel het, dit styf opgerol en in die sinkbad gepak het. Wanneer die klammigheid elke stuk min of meer deurtrek het, sou Ouma begin om hulle te stryk. Alles is pragtig gestryk, onderklere, lakens, sakdoeke – alles. Ek veronderstel dat die strykwerk ook ’n soort ontsmetting was. Die warm yster sou alle goggas dood wat in die wasgoed ingekruip het.
Ek kan nie Oupa se ouers onthou nie, maar ek dink hulle is in Tarkastad dood en begrawe. Maar Ouma se ouers is in Cradock begrawe, en elke Sondag se roetine het ’n besoek aan die begraafplaas ingesluit om vars blomme op hulle grafte te plaas. Ek is na die Engelse Sondagskool toe gestuur. My pa het Engels hoërgraad (sowel as Afrikaans hoërgraad) en Engelse letterkunde op skool geneem. Ek reken dat hy besluit het dat Engels die wêreldtaal is. Toe hy gebore is, het Britannia immers oor ’n kwart van die wêreld se oppervlakte regeer.
Oupa het ’n Oldsmobile gehad wat hy net voor die oorlog gekoop het. Hierdie motor is elke Sondag uitgetrek om die battery te laat laai. Na Sondagskool sou hy my kom oplaai en dan het ons ’n klein entjie op een van die paaie die binneland in gery. Ouma sou een van haar kolwyntjies vir my gereed hou. Hulle was reusagtig groot en oral-oor oordadig versier met kleurvolle sprinkels. Ek onthou hulle baie goed.
Die motor is in iemand anders se motorhuis gebêre. Baie min mense het motors besit. Ouma se motorhuis is in ’n stoorkamer en badkamer omskep. Warm water is in ’n donkie gemaak. Jy het ’n houtvuur daarin gemaak en die water in die dubbele wand is verhit. Die getroue ou Miena moes die houtjies vir die vuur kap. As die vuur aangesteek word, word die water baie gou warm. Wanneer jy klaar gebad het, het Ouma by jou verbygeskuur badkamer toe en elke enkele waterdruppel opgevee. Net vyf minute nadat jy daar uit is het die badkamer weer gelyk asof geen mens dit ooit gebruik het nie. Die sitkamer was oënskynlik die dominee en die fotograaf se heiligdom. Ek onthou dat ons eenkeer rondom die rusbank bymekaargemaak is vir ’n gesinsfoto, maar ek kan nie ’n ander keer onthou dat ek in die sitkamer was nie. Miena het meer tyd in die sitkamer deurgebring as enigiemand anders omdat sy die plek moes skoonmaak. Dit het jy nou omdat die dominee nie meer gereeld huisbesoek gedoen het nie.
Ouma het versigtig met geld gewerk en was erg daarop gesteld om haar verpligtings na te kom. Ek onthou ’n inskrywing in haar dagboek op die eerste van ’n maand: “Jo – rekening gelewer – 3 pennies”, toe haar dogter nagelaat het om haar skuld op die laaste dag van die vorige maand te betaal. Ouma het haar besittings goed opgepas. Geld was moeilik te kry en dinge moes lank hou. Daar was kosbaarhede wat selde gebruik is. Daar was lakens van egte Ierse linne. Ek kan nog onthou hoe hulle gevoel het. Watter kwaliteit! Lakens vir alledaagse gebruik het in die middel begin slyt. As dit gebeur, is hulle middeldeur gesny en die rande is aanmekaargewerk. Die verslete dele is ingevou en gestik sodat jy ’n bruikbare laken gehad het, al was daar ’n rif in die middel. Komberse het ook afgeslyt. As hulle verweer begin toon, is hulle met materiaal oorgetrek om die verslete dele te bedek. Hierdie oorgetrekte komberse was heerlik warm en een van hulle het ’n kosbare besitting van my gebly totdat dit letterlik van gebruik uitmekaargeval het. My pa se enigste suster het gereeld deur die huis geloop en gesê dat sy “dit” en “dat” wil erf as Ouma doodgaan.
Toe Oupa dood is, het ek en my pa vir Miena op pad werk toe voorgekeer om vir haar te vertel wat gebeur het. Nooit tevore of daarna het ek soveel trane gesien nie – sy was baie lief vir daardie twee oumense. Liewe ou Miena het ook voor Ouma aan die einde van haar lewe gekom.
Ouma het graag gesê dat besittings net “wêreldsgoed” is, maar tog het sy haar besittings goed opgepas en gekoester. Dit is tragies dat die mense na Ouma se dood letterlik die goed wat sy so goed versorg het, as “onbruikbaar” weggegooi het. Ek dink Ouma sou verkies het dat Miena hulle kry, want net soos Ouma het sy begryp dat mens die min wat jy het, baie hoog moet waardeer.