Die Grootpad wat Minder Gebruik Word

DIE GROOTPAD WAT MINDER GEBRUIK WORD

Deur Les Hellmann en Vertaal deur: Danie Steyl

 

Namakwaland is ‘n plek waar tyd in sirkels beweeg. Stadige sirkels. Die lewe is nie maklik daar nie, maar jy kan altyd opvang wanneer jy in Namakwaland agter raak, of jy kan wag tot die siklus weer by jou verbykom. In Namakwaland is die vreemde normaal, en daar is niks vreemds aan om ‘n wit man en ‘n bruin man saam op stowwerige paaie oor antieke berge te sien reis nie.

Bradley was ‘n wit man. Hy het gelyk of hy agter die stuurwiel van sy Lexus RX350 hoort. Sy klere is aanlyn vanaf ontwerper-webtuistes regoor die wêreld bestel. Hy het sy vliegtuigkaartjies aanlyn bespreek. Hy het alles aanlyn gedoen. Hy sou aanlyn vir ‘n haarsny gaan as hy kon. Sy Lexus was meer soos ‘n mobiele kantoor as ‘n motor – ‘n duur rekenaar op duur wiele. Hy kon Linked-In, Facebook, Tweet, Twitter, Blog, Google en wat ook al doen vanaf sy geïnstalleerde opsionele ekstra rekenaarstelsel. Daar was ook ‘n satellietfoon, TV met ‘n p lasmaskerm in die agtersitplek, GPS, opspoorder en rondom-klank vir die iPod.

Niemand behalwe sy vriende het vir Bradley “Brad” genoem nie. Met ander woorde, niemand het hom Brad genoem nie. Hy het egter eenduisend tweehonderd drie-en-veertig Facebook-vriende gehad, en hy was “Linked-in”. Bradley was nie ‘n volledige funksionerende mens nie.

Abram was ‘n bruin man. Hy was gebore en getoë as ‘n Namakwa. Sy voorouers het prentjies op grotmure geverf lank voordat tyd vasgevang is en in digitale hokkies van minute en sekondes gevange gehou is. Selfoon? Abram het nie eers ‘n partylyn-foon gehad nie. Moeilik om ‘n partylyn te hê wanneer daar geen operateur is nie. Sy is oortollig gemaak ses of sewe somers gelede, net ná die groot vloed. Abram het baie vriende in Leliefontein en die omliggende gebied gehad – maar nie een Facebook-vriend nie.

Die wêreld waarin Abram geleef het, was klein, maar die heelal wat hy bewoon het, was reusagtig. Hy het die son en die maan en die planete geken, en die sterre waartussen hulle beweeg het. Hy het geweet van klein geitjies wat onder rotse in sanderige plekke leef, en die liedere van voëls.

Dus, soos vroeër genoem, was dit nie vreemd om te sien dat Abram en Bradley saam in Namakwaland reis nie. Hulle paaie het gekruis in niemandsland tussen mensheid en tegnologie, en hulle was nou vir ‘n ruk in dieselfde rigting op pad. Dit was op die grondpad tussen Platbakkies en Witwater waar hulle reisgenote geword het. Soos hulle in daardie deel van die wêreld sê, stop die een op wiele vir die een in skoene – as hy gelukkig genoeg is om skoene te hê. Bradley kon al hierdie stilte regtig nie verdra nie.

Daar was ‘n half ongemaklike stilte tussen die twee mans, die ongemaklike helfte aan Abram se kant, terwyl Bradley ‘n bietjie uit sy gemaksone was. Abram se oë het die bekende berge raakgesien en die geelbruin sandpad wat homself sagkens om die berge vou sonder om inbreuk op hulle eeue-oue geduld te maak, maar hulle meer aanloklik maak, nie so onherbergsaam soos toe ontdekkingsreisigers hulle eeue gelede die eerste keer gesien het nie.

“Waar woon jy dan?”

“By die sendingstasie by Leliefontein.”

“Wat is ‘n sendingstasie?” Brad was ernstig onkundig oor lewe buite rekenaars, en op daardie oomblik was dit onprakties om te Google. Hy het geweet wat ‘n sending-stelling was, maar nie ‘n sendingstasie nie.

“O, dit is ‘n plek waar mense die werk van God doen,” antwoord Abram.

“Ek glo nie in God nie.” Bradley was verbaas toe hy homself hierdie laaste opmerking hoor maak. Hy het nooit eers gedink of God bestaan of nie. As dit geen logika het nie, bestaan dit nie op Bradley se platskerm-aarde nie.

“Baie mense glo nie, en baie mense glo,” was al wat Abram gesê het.

Die newelagtige stilte het weer oor Bradley neergesak, hom verstik, terwyl Abram sy aanskouing van die helder wêreld waardeur hulle gereis het, voortgesit het. Hulle het vir ‘n ruk in hierdie onpaar stilte verder gereis, en Abram kon Bradley se rusteloosheid aanvoel, maar hy het hom alleen met sy verontrusting gelaat.

“Het julle enige rekenaars by hierdie sendingstasie van jou?” vra Bradley, bloot om iets waarmee hy bekend is in die situasie in te bring.

“Daar is een in die administrasiekantoor, maar ek het nie veel nut daarvan nie.”

“O,” was al wat Bradley gesê het.

“Maar julle het elektrisiteit daar, het julle nie?” vra Bradley nadat sy “o” geen reaksie gekry het nie.

“Ja,” lag Abram, “maar nie altyd nie, en die telefoonlyne is natuurlik dikwels af. Telkom word moeg daarvoor om gesteelde draad te vervang, so, miskien sal ons binnekort geen telefone hê nie.”

Bradley kon nie gesels sonder om vrae te vra nie. “Wat van selfone?”

“Wel, sommige mense het hulle, maar daar is geen dekking in die dorp nie. Die meeste mense wat hulle het, wil net fatsoenlik lyk, maar wanneer die battery gelaai word, gebruik hulle dit as ‘n wekker om betyds vir werk wakker te word. As hulle werk het.”

“Wat doen jy saans, of oor naweke?”

“O, ek gaan op Sondae kerk toe. En ek skryf musiek. Speel my kitaar, die kerkorrel en klavier.”

Dit het Bradley verbaas. Hy kon miskien hierdie verweerde man met sy velthoed sien kitaar speel, maar nie ‘n klavier of orrel nie. Nie dat hy baie van die orrel af geweet het nie, buiten dat dit ‘n oudmodiese sleutelbord het. Wat die skryf van musiek betref, wel, hy sou dit ook met ‘n knippie sout neem. Hy het getwyfel of hierdie ou, verrimpelde man normaal kon lees of skryf, vergeet van musiek.

“Is jy goed in hierdie musiek wat jy speel?”

“Die mense wat luister, geniet dit.”

Bradley het ‘n opening gesien.

“Jy weet, as jy meer van rekenaars geweet het, sou jy jou liedere kon opneem. Jy sou hulle na ander mense kon stuur om ook daarna te luister, en hulle miskien kon verkoop as jy goed genoeg sou wees.”

“A, maar die musiek sou uit ‘n kas kom, nie uit die hart nie. Is dit nie beter om na die hart te luister nie?”

Dit was ‘n bietjie te veel vir Bradley om in te neem, maar hy het met sy gedagterigting voortgegaan.

“Man, jy kan nie ‘n iPod of ‘n Blackberry ‘n kas noem nie. Tegnologie het dit moontlik gemaak dat musiek in jou sak saamgedra kan word. Vergeet van jou hart.”

Weereens stilte. Vir die eerste keer in sy lewe het Bradley ‘n onsinnige soort gemaklikheid in die stilte gevind. Hy kon egter nie verhoed dat die vrae uit sy mond spring nie.

“Is daar dan winkels op Leliefontein?”

“Daar is ‘n handelshuis waar ons die meeste goed kan kry, en af en toe gaan ons Garies toe om te koop wat ons nie op Leliefontein kan kry nie. Garies het ‘n baie groter handelshuis. Maar ons gaan meestal om familie en vriende te sien. Ons hou daarvan om na mekaar se stories te luister.”

Waarom vra hierdie man nooit vir my vrae nie, wonder Bradley. Terselfdertyd wonder Abram waarom hierdie man so gretig was om vrae te vra, maar nooit enige inligting oor sy eie lewe aangebied het nie. Nie dat hy omgegee het nie; hy het Bradley eenvoudig as ‘n mens aanvaar en hom in sy wêreld verwelkom, sonder om druk op hom te plaas. As hy miskien iets uit sy wêreld kon uitwys, sou hulle kon praat in plaas van om mekaar te ondervra.

Hy wys na ‘n digte bos pienk blomme. “Daardie plant is wat ons die Kattekruid noem. Die kinders dans soms rondom dit en sing ‘Kattekruid, Kattekruid daar staan die Kattekruid, dis ‘n lekker kruid’. Hulle sing basies dat dit ‘n mooi plant is, maar dit lyk nie net mooi nie, ons mense het vir eeue medisyne daarvan gemaak. Dit is vir hartprobleme, griep, koors, hoofpyne, lewerprobleme en artritis. Selfs vir aambeie.” Abram lag. “Ek is nie seker wat die Engelse naam daarvoor is nie, maar die Latynse naam is Ballota Africana.”

Toe Bradley sy oë terug na die pad draai, sien hy in sy gedagtes nie net die blomme nie, maar ook die kinders wat rondom dit dans. Hy kon selfs die singery hoor, wat hom ‘n bietjie ontstel het. Voorheen sou hy die prentjie op sy foon of iPad afgeneem en na ‘n hele hoop kontaknommers gestuur het, waar dit uitgevee en vergeet sou word. Nou het hy die prentjie geleef, en hy het geen fisiese rekord daarvan nie. Hy het dit vreemd opwindend gevind.

“Daar oorkant, daardie plant met die wit blomme is die Kapokbossie of Eriocephallis Africanus. Sy blomme sal binnekort in harige wit saadballe verander. Ons gebruik die Kapokbossie vir maagpyn. Ons maak ‘n alkoholiese aftreksel daarvan, en ‘n klein sopie doen wondere. Soms dink ek die mans maak of hulle siek is sodat hulle vrouens vir hulle die medisyne kan gee. Ons kry baie van ons medisyne hier uit die veld, daarom is ons nie bekommerd omdat ons nie ‘n apteek hier naby het nie.”

Toe Bradley na die Kapokbossie kyk, verbeel hy hom hy sien dinge – anderkant die Kapokbossie was ‘n reeks berge ver in die verte, en anderkant dit ‘n lou lyn wat lyk of dit byna deel van die lug is.

“Dit lyk soos die see daar,” sê hy. 

“Dit is – dis die Atlantiese Oseaan,” sê Abram. “Ek hou daarvan om dit van hierdie punt af te sien. Ek sien nie net die groot vlakte daar onder nie, maar ook die oseaan wat selfs verder uitstrek, terwyl die lugruim tot buite my verbeelding uitstrek. Ek sien nuwe wêrelde en idees hier buite wat net wag om met ander gedeel te word.”

Bradley het ‘n bietjie verdwaas gevoel. Hy was blootgestel aan gedagtes wat sonder die hulp van rekenaars geskep is. Hy het feite gehoor wat hy nie onmiddellik kon bevestig deur op die Internet te gaan nie. Die gedagte dat vrye idees hier rondgedryf het, was vir hom ‘n bietjie ontstellend. En al hierdie toordokter medisyne-goed waaroor Abram gepraat het – was daar kwaksalwers wat ryk geword het deur kure te verkoop wat niks aan primitiewe mense doen nie? Weliswaar, dit was omtrent wat in die wêreld gebeur – dokters wat duur pille verkoop wat meer newe-effekte as kure het. Hierdie gedagte het hom meer ontsenu – hy het nie siniese gedagtes gehad nie.

Bradley was besig om beslis verward te raak. Die gedagte het by hom opgekom dat Abram nie gepraat het soos hy gelyk het nie. Hy het kennis van dinge gehad, maar terselfdertyd het hy nie in rekenaars belanggestel nie. Was sy wêreld so klein dat hy onbewus was van wat tegnologie na die wêreld gebring het of wat hy sou kon doen as hy meer van tegnologie kon leer?

Hulle het nader gekom na Leliefontein in die langer wordende skaduwees van die sonsondergang. Bradley het aangetrokke begin voel tot hierdie eenvoudige man, iets wat hy nog nooit voorheen gedoen het nie. Hy het gewonder of Abram al ooit verder as Garies was. 

Hy het moed bymekaar geskraap. “Sê my, Abram, het jy al ooit gaan kyk wat anderkant hierdie eenvoudige klein wêreld van jou is?”

Abram het ‘n bietjie nagedink voordat hy geantwoord het. 

“Ja.”

“En waarheen het jy gegaan?”

“Grahamstad. Ook Cambridge. In Engeland, jy weet.”

“Dit is nou interessant. Wat het jy by Cambridge gemaak?”

“Ek het my PhD in godgeleerdheid klaargemaak.”

Daar was ‘n verleë stilte terwyl hulle die enigste B&B in Leliefontein genader het. Abram het niks gedoen om dit te breek nie. Eers toe hulle gestop het, het hy stadig na Bradley gedraai.

“Ek is dankbaar vir hierdie geleentheid om ‘n nuwe vriend te maak, Brad, en ek hoop ons ontmoet mekaar weer eendag. En onthou, daar is meer aan die lewe as tegnologie, hoe verrassend dit ook al is. Dit kan ons soms in die steek laat, jy weet. Maar ons hoef nie hulpeloos daarsonder te voel nie. Laat dit goed gaan.”

Brad het vreemd in harmonie met homself gevoel – nie meer verleë soos wat die skille van sy oë afgeval het nie. Hy het van Abram se donkiekar afgeklim en die sagmoedige Saartjie ‘n dankbare klop op die agterstewe gegee. Hy sou hom die volgende dag oor die Lexus en sy pap battery bekommer.

Back to blog