Beste planne met botterskorsie

Beste planne met botterskorsie

Ken jy die bekende groente as botterskorsie of praat jy ook selfs in Afrikaans van butternut’? Dié groente word dikwels met botterskorsiesop geassosieer, maar daar is soveel meer wat jy daarmee kan doen. Die natuurlike soet smaak is heerlik, ongeag of jy dit kook, rooster of rasper en in ’n maalvleismengsel gebruik. Heleen Meyer deel hier ’n immergewilde bykos, met haar interessante kinkels. Sien ook haar lekker praktiese wenke vir wanneer jy met botterkorsie werk.

 

Geure met botterskorsie

Daar is ’n lang lys van geurmiddels wat perfek is om saam met botterskorsie te gebruik. Dink maar net aan enige vars kruie, en veral iets soos salie, origanum, tiemie of kruisement tot speserye, soos kaneel, komyn of kerriepoeier. Ander geure soos knoffel, gemmer, suurlemoen, brandrissie, heuning, balsamiese asyn, spek en selfs peule, neute, sade en verskillende kase is heerlike opsies.

 

Wenke as jy botterskorsie kook:

1. Sukkel jy om ’n botterskorsie af te skil? Gebruik liewer ’n skerp groenteskiller – dis baie effektiewer as ’n groentemes. Of rooster jong botterskorsies sommer met die skil aan – dis regtig lekker!

2. Skep die pitte met ’n stewige, ronde metaallepel of metaal-roomyslepel uit – dit werk soveel makliker as om dit te probeer uitkrap. Selfs ’n pomelo-lepeltjie met tandjies werk goed.

3. Onthou, die pitte en skille is ideaal vir ’n wurmplaas of komposhoop, so moenie dit net weggooi nie.

4. As jou hande styf voel en oranje is na jy met botterskorsie gewerk het, was dit dadelik in warm seepwater en skrop met ’n naelborseltjie of die growwe kant van ’n wassponsie.

5. Onthou, botterskorsie bly ’n styselryke groente, so kies liewer lae-stylsel bykosse of slaaie, om jou bord verderl vol te maak en die ete gebalanseerd te hou.

 

’n Bak vol warm pampoenkoekies sal almal vinnig laat tafel toe kom. Dalk het jy nog altyd net pampoen hiervoor gebruik, maar het jy geweet dat botterskorsie ewe goed werk? Heleen Meyer kook ook sommer die botterskorsie vooraf met ’n kaneelstokkie om dit ekstra geurig te maak. Ja, kaneelsuiker is die bekende manier om pampoenkoekies mee voor te sit, maar probeer gerus ook dié aromatiese botter met vars salie – jy gaan ’n nuwe geur-wêreld ontdek. Die kombinasie van gesmelte botter met vars salieblare daarin gerooster, is ongelooflik geurig. Die bietjie olie in die mengsel keer dat die botter maklik brand en hou dit ook vloeibaar.

 

Botterskorsiekoekies met saliebotter

Lewer 4 – 6 porsies

 

Koekies

800 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny

1 kaneelstokkie

2 ekstra-groot eiers, liggies geklits

250 ml (1 k) koekmeel

7,5 ml (½ e) bakpoeier

1,25 ml (¼ t) gemaalde wonderpeper (allspice) of neutmuskaat

5 ml (1 t) gemaalde kaneel

sout en peper na smaak

olyfolie om in te braai

 

Saliebotter

45 ml (3 e) botter (nie margarien nie!)

45 ml (3 e) olyfolie

20-25 heel vars salieblare, afgespoel en droog gedruk

 

1. Koekies: Plaas die botterskorsie met die kaneelstokkie en ongeveer 250 ml water in ’n kastrol. Bring tot kookpunt en prut met die deksel vir 25 minute of tot net gaar. Dreineer dit deeglik en laat heeltemal afkoel. Haal die kaneelstokkie uit.

2. Plaas die gaar botterskorsie in ’n mengbak en druk met ’n vurk of aartappeldrukker fyner. Klits die eiers by tot dit goed ingemeng is.

3. Sif die droë bestanddele oor die botterskorsie en geur na smaak. Meng dit versigtig met ’n klitser of silikoon-spatula deur, maar moenie die mengsel te veel meng nie.

4. Verhit ’n groot braaipan oor matige temperatuur en giet ’n dun lagie olie op die basis. Skep lepelsvol beslag (ongeveer 30 ml elk) in die pan. Braai vir ’n paar minute tot die onderkant goudbruin is en die bokant begin stol.

5. Draai die koekies om en braai aan die anderkant tot goudbruin en gaar. Hou die koekies warm en herhaal met die orige beslag om ongeveer 24 koekies te bak. Giet nog ’n dun lagie olie in die pan soos nodig.

6. Saliebotter: Berei dit net voor die botterskorsie-plaatkoekies voorgesit gaan word. Plaas die botter en olie in ’n klein pannetjie en verhit oor ’n medium tot lae temperatuur.

7. Roer die salieblare by, sodra die botter gesmelt het en die olie begin warm word. Braai die blare tot amper bros, maar steeds groen van kleur. Wees versigting, want hoe langer die blare braai, hoe brosser word hulle en word moeiliker om uit te skep. Die botter kan maar ’n bietjie begin verkleur – effens goudbruin tot amberkleurig is reg, maar dit moenie brand nie.

7. Sit die warm botterskorsiekoekies met lepelsvol warm saliebotter en van die blare voor.

 

Wenke:

1. Die resep kan selfs met oorskiet gaar botterskorsie of pampoen gemaak word. Gebruik ongeveer 650 g gaar, fyngedrukte botterskorsie vir die resep.

2. As jy nie botterskorsiekoekies met die saliebotter wil voorsit nie, sal kaneelsuiker net so lekker wees, maar probeer gerus die nuwe manier.

 

Vir nog resepte soos hierdie, besoek Heleen se webwerf: https://heleenmeyer.co.za/

Foto: Adel Ferreira

 

Back to blog