Steenvrugte is wel net vir ’n sekere tyd van die jaar beskikbaar, maar daar is ’n hele paar smullekker idees wat jy daarmee kan maak. Dis heerlik in ’n groenslaai, as alternatief vir tamaties of in ’n slaai met ’n stysel as basis soos koeskoes, bulgar of stampkoring. Gebruik steenvrugte met ander vars bestanddele soos komkommer, sprietuie en soetrissie vir ’n kleurvolle en geurige bygereg. Of maak ’n salsa met perskes, nektariens of appelkose om saam met ’n lekker stukkie vleis, vis of hoender voor te sit.
Steenvrugte is natuurlik ook gewild vir soet gebak en nageregte. Die resep wat Heleen Meyer hier met ons deel, is so eenvoudig, dat enige een dit kan maak. Die vrugte word eers bietjie in ’n pan gebraai en dan in ’n sousie van botter, kaneel, heuning en Rooibostee, sap of ’n skeutjie likeur vir ’n paar minute geprut. Die holte van elke vrug word dan met ricottakaas en neute gevul – hemels!
Amper enige suiwelproduk pas by die botter-en-kaneelsousie en vrugte. Die ricottakaas of ongegeurde jogurt maak hierdie ’n baie gesonde nagereg, maar jy kan dit met enige suiwelproduk van jou keuse voorsit. Roomys, ’n bietjie room of selfs ’n lepeltjie crème fraîche of suurrroom sal heerlik wees.
As hierdie jou tipe nagereg is, kan jy dit volgende keer met ander somersvrugte, soos appelkose of selfs ryp vye maak. Of gebruik ryp pere, in die skil, in die winter.
Pangebraaide perskes met ricotta
Resep deur Heleen Meyer uit Kos is op die tafel!
Lewer 6 – 8 porsies
30-50 g gevlokte amandels
6-8 ferm, ryp geel taaipitperskes of nektariens in die skil, gehalveer en ontpit
30 ml (2 e) botter
60 ml (¼ k) heuning
7,5 ml (½ e) gemaalde kaneel
50 ml Rooibostee, lemoensap of nartjie- of lemoenlikeur
250 g ricottakaas of ongegeurde dubbeldik jogurt
1. Verhit ’n groot braaipan oor matige hitte en rooster die amandels vir ’n paar minute tot goudbruin. Skud die pan gereeld om te keer dat dit brand – hou dit dop, want dis ’n vinnige proses. Skep die neute uit en hou eenkant.
2. Sit die pan terug op die plaat en pak die perskes, gesnyde kant na onder, in die pan. Braai vir ’n paar minute tot die perskes liggies goudbruin is. (Braai dit in ’n bietjie van die botter, as jy bang is dit brand, maar moenie dat die botter brand nie.)
3. Roer die botter by en verlaag die hitte. Voeg die heuning, kaneel en Rooibos, sap of likeur by en meng deur om die perskes daarmee te bedek.
4. Prut perskes vir 2-3 minute, met die deksel, of tot dit net begin sag word en deurwarm is, maar steeds hul vorm behou.
5. Skep die perskes uit. Skep lepelsvol ricottakaas of jogurt in elke helfte, bedruip met van die sous en sprinkel die neute oor. Sit dadelik voor.

Besoek Heleen se webwerf (www.heleenmeyer.co.za) vir nog soortgelyke resepte.
Foto deur Adriaan Vorster