Mieliepap in die oond

Mieliepap in die oond

Oor die ‘wat’ en ‘hoe’ van mieliepap met braaivleis, kan mens amper net soveel gesprekke as oor braaibroodjies voer – elkeen het sy of haar manier waarop dit ‘perfek’ is. Vir baie Suid-Afrikaners is mieliepap sinoniem met braaivleis en sous, maar ander ken dit glad nie of hou net eenvoudig nie daarvan nie. Probeer sommer binnekort hierdie resep van Heleen Meyer. Sy sê selfs mense wat andersins nie mieliepap sal eet nie, geniet die bygereg baie. Sy bak die meelmengsel in die oond en sit ’n eenvoudige, maar baie geurige bolaag van uie, sampioene en vars kruie op. Jy is welkom om nog steeds ’n tamatiesmoor daarmee saam te bedien en dit kan letterlik saam met enige braaivleis geniet word. Die bygereg is selfs lekker met ’n souserige bredie of potjiekos, om al die lekker sous te absorbeer. 

 

Die mengsel is dood eenvoudig om voor te berei en alhoewel die mengsel lank bak, doen die oond die werk, so jy kan met iets anders aangaan, of saam buite kuier, terwyl dit gaar word. Heleen se raad is om beslis ’n growwe mieliemeel te gebruik, want dit gee die gereg ’n heerlike tekstuur en geur. ’n Vlak oondbak gaan ook ’n lekkerder resultaat lewer, omdat die mengsel dan in ’n dunner laag gaan wees en só makliker gaan gaar word, sonder om uit te droog. As jy nie van die idee van ’n bolaag hou nie, kan jy dit weglaat of net die uie gebruik. Baie mense sit graag kaas op so ’n mieliemeelgebak, maar probeer gerus die uie en sampioene.

 

Mieliepap in die oond

Lewer 4 – 6 porsies

 

750 ml (3 k) growwe mieliemeel

625 ml (2½ k) melk

625 ml (2½ k) water

80 ml (⅓ k) olyfolie

1 x 410 g blik suikermielies (cream-style sweetcorn)

sout en swartpeper na smaak

½ klein ui, in dun wiggies gesny

8-10 knopiesampioene, in kwarte gesny (opsioneel)

10-12 takkies vars tiemie

 

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n vlak oondvaste bak liggies met olyfolie. ’n Bak van sowat 30 x 23 x 5 cm in ’n lekker grootte. (Onthou, hoe dieper die oondbak, hoe langer neem die gereg om gaar te word.)

2. Roer die meel, melk, water, olie en suikermielies in die oondbak saam en geur na smaak. Roer weer deur, sodat die mielies eweredig deur die mengsel versprei is.

3. Strooi die ui en sampioene oral oor die mengsel, maar moenie weer roer nie. Sprinkel tiemie oor.

4. Bak vir 45-60 min of tot die meel gaar en die gereg goudbruin bo-op is. Sit dadelik warm voor. 

 

Visit Heleen’s website (www.heleenmeyer.co.za) for more recipes like this.

Image: Adel Ferreira

Back to blog