Viskoekies is nogal iets waaroor mense sterk opinies kan hê. Jy is óf dol daaroor, of dis nou nie eintlik op jou lys van gunstelinge nie. Maar hierdie resep van Heleen Meyer is een waarvoor daar oor en oor gevra word. Dis maklik om te maak en met een blikkie sardyne (pilchards) kan jy ’n hele voedsame ete voorberei. Sardyne is ’n baie bekostigbare protein en regtig gesond, want dis propvol gesonde olies en die sagte visgraatjies is ’n uitstekende bron van kalsium. So moenie die grate uithaal nie, maar druk dit saam met die vissies fyn en gebruik dit as deel van die mengsel.
Daar is baie verskillende soorte viskoekieresepte – van ’n eenvoudige mengsel met meel, groente, eier en geurmiddels, soos hierdie maklike resep van Heleen, tot ’n mengsel van gaar aartappel, vis en geurmiddels, wat dikwels ook eers gekrummel word en dus heelwat meer werk vra. Heleen gebruik ’n paar bestanddele om die viskoekies geurig, interessant en ekstra vullend te maak. Gekapte ui en gerasperde wortels gee dit volume en ’n natuurlike soet smaak. Sy gebruik ook ’n bietjie hawermout, meel en eier om die mengsel te bind, maar steeds lig te hou. Die suurlemoen en kruie is regtig lekker in die mengsel en sy gee die wenk dat die viskoekies uitstekend vries.
Maklikste viskoekies
Resep deur Heleen Meyer
Lewer 25 koekies
1 x 410 g-blik sardyne in tamatiesous
45 ml (3 e) water
1 klein ui, gerasper
2 wortels, grofgerasper
60 ml (¼ k) koekmeel
2 eiers, geklits
125 ml (½ k) hawermout
60 ml (¼ k) blatjang of tamatiesous
60 ml (¼ k) gekapte vars kruie, soos Italiaanse pietersielie en koljander
5 ml (1 t) fyn koljander
fyngerasperde skil en sap van ½ suurlemoen
sout en peper
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie vir braai
1. Plaas die vis met die tamatiesous in ’n groot mengbak en druk dit fyner met ’n vurk.
2. Spoel die blikkie met die water uit en voeg dit met die res van die bestanddele, buiten die olie, by die sardyne. Meng dit goed deur en geur na smaak. Die beslag is redelik loperig, so moenie bekommerd wees daaroor nie.
3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige temperatuur in ’n braaipan. Skep lepelsvol van die mengsel in die pan en braai vir 3-5 minute aan ’n kant. Draai om en braai nog ’n paar minute of tot goudbruin en gaar.
4. Dreineer op kombuispapier indien nodig en herhaal met die res van die mengsel en nog olie, soos benodig. Hou die viskoekies warm.
5. Sit die viskoekies met suurlemoenwiggies en ’n slaai of enige groente van jou keuse voor. Klein aartappeltjies in die skil of mielies aan die stronk is baie lekker met die viskoekies.
Vir nog resepte soos hierdie, besoek Heleen se webwerf: https://heleenmeyer.co.za/.
Foto deur Neville Lockhart