Kom skep op, dis soptyd!
’n Bakkie warm sop is regte koesterkos en elkeen het hul voorkeur vir ’n lekker sop. Dalk hou jy van ‘n groentesop, of soms weer iets met ’n bietjie vleis by. Sommige soppe is glad en romerig en ander is juis weer lekker omdat daar baie tekstuur in is. Wat is jou gunsteling?
Potte vol lekkerte
Die een rede waarom sop so gewild is, is omdat jy met ’n paar eenvoudige bestanddele ’n feesete met min moeite kan voorberei. Sop met droë bone of ertjies neem langer om te kook en verg ’n bietjie beplanning, maar heelwat resepte is vinnig om voor te berei. Feitlik enige groente kan in sop gebruik word en uie, wortels en seldery vorm dikwels die basis van ’n sop. Die resep wat Heleen Meyer hier deel, is ’n smullekker groentesop, maar jy is welkom om ’n protein van jou keuse by te sit. Lensies, kekerertjies of bone sal heerlik wees, of as jy iets meer vleiserig verkies, sal gaar spek of hoender ewe lekker wees.
’n Paar sopwenke:
- Soteer en rooster: Moenie net alles saam kook nie. Soteer, braai of rooster groente, speserye en vleis vooraf vir meer geur.
- Geurmiddels: Hou dit natuurlik met vars kruie, speserye, gemmer, brandrissies, knoffel en suurlemoen.
- Vloeistof: Gekoopte aftreksel kan baie sout wees, so vervang dit of gebruik om die helfte met sterk Rooibos.
- Romerige tekstuur: Verpulp een deel van die sop en roer terug by die res van die bestanddele in die pot. Dit sal die sop ’n romerige tekstuur gee en dit ook sommer verdik, sonder die nodigheid vir meel, mielieblom of room, so dis ’n heelwat gesonder manier om die sop ’n interessante tekstuur te gee. Styselryke bestanddele soos bone, gort, aartappels of botterskorsie is sal ook van die vog absorbeer en die sop laat verdik.
Saam met die sop
Ja, brood is die gewildste bykos, maar daar is heelwat ander gesonde maniere om ’n bakkie sop voor te sit, veral as jy probeer om minder stysel te eet. En soms is daar klaar genoeg stysel in die sop, as daar byvoorbeeld aartappels, botterskorsie, gort, pasta of bone in is. Gebruik avokado, vars kruie, dukkah, kase soos pecorino, cheddar en feta of selfs bloukaas as ’n baie lekker manier om die sop mee af te rond. ‘n Lepeltjie suurroom, room of karringmelk is ook heerlik of selfs ’n goeie skeut olyfolie – probeer dit gerus dié winter. Die bros repies pita of roti met hierdie sop, is ’n lekker alternatief vir brood en is altyd gewild.
Growwe Italiaanse tamatiesop
Resep deur Heleen Meyer
Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 6 – 8 porsies
10 ml (2 t) komynsaad
15 ml (1 e) olyfolie
1 groot rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
2 uie, gekap
2-3 knoffelhuisies, fyngedruk
3 selderystingels met blare, in skyfies gesny
2 wortels, in blokkies gesny
2 middelslag-eiervrugte met die skil, in blokkies gesny
2 x 410 g-blikke gekapte tamaties
1,25-1,5 liter (5-6 k) groenteaftreksel of sterk Rooibostee
1 lourierblaar
60 ml (¼ k) gekapte vars Italiaanse pietersielie
suurlemoensap, sout en peper na smaak
2-3 handevol babaspinasieblare of 2-3 groot spinasieblare, in dun repies gesny
45 ml (3 e) gekapte vars kruisementblare
repies pecorino- of parmesaankaas, met ’n aartappelskiller gemaak of fetakaas, gekrummel
2-3 klein roti’s of pitas, in repies of driehoekies gesny en vir ’n paar minute teen 200 °C in die oond of lugbraaier tot bros gerooster (opsioneel)
1. Verhit ’n groot kastrol oor matige hitte en rooster die komynsaad, sonder enige olie, vir 2-3 minute of net tot aromaties. Hou dop dat dit nie brand nie – voeg dan liewer ’n klein bietjie olie by. Skep die saadjies uit en hou eenkant.
2. Verhit die olie in dieselfde kastrol oor matige hitte en soteer die soetrissie, uie en knoffel tot amper sag. Voeg die seldery, wortels en eiervrug by en soteer nog ’n paar minute.
3. Roer die komynsaad met die tamaties, aftreksel, lourierblaar en helfte van die pietersielie by. Sit die deksel op, verlaag die hitte en prut vir 25-30 minute of tot die groente net sag is, maar nie pap nie. Geur na smaak.
4. Roer die spinasie deur tot dit net sag is, maar steeds helder groen. Roer die orige pietersielie en kruisement by. Sit dadelik met die kaas en roti’s of brood van jou keuse voor.

Vir nog resepte soos hierdie, besoek Heleen se webwerf: https://heleenmeyer.co.za/
Foto deur Adel Ferreira, vir LiG Tydskrif