Geroosterde eiervrug met ’n jogurtsous

Geroosterde eiervrug met ’n jogurtsous

So maak jy met EIERVRUG

Kom ons begin met ’n prettige feit. Alhoewel eiervrug as ’n groente gebruik word, is dit uit ’n botaniese oogpunt wel ’n vrug. Die ander interessante feit is dat die vrug ’n hele paar ‘name’ het. Hoe noem jy dit? In Engels word dit egg plant of brinjal genoem en heelwat mense verwys ook daarna as aubergine – die Franse woord daarvoor.

 

Vir Heleen Meyer is eiervrug een van haar gunstelinggroentes en tog erken baie mense dat hulle dit nog nooit gaargemaak het nie. Hoekom nie? Wel, meeste sê dat hulle nie presies seker is wat om met die groente te doen nie. Heleen help graag met ’n paar tipiese vrae:

 

Vraag 1: Moet eiervrug afgeskil word?

Antwoord: Nee, dis glad nie nodig nie. As die eiervrug se skil merkies of ’n kneusplek aan het, kan daardie dele net afgeskil of weggesny word. Die skil help om die vrug ‘bymekaar te hou’ wanneer dit gaargemaak is, omdat die binnekant karamelliseer en sag word. Die skil gee die gereg ook ’n pragtige kleur.

 

Vraag 2: Moet eiervrug eers gesout word?

Antwoord: Nee wat, dis ook nie regtig nodig nie. Vroeër jare was eiervrug dikwels gepluk as dit al heelwat groter en dikwels ook ouer was, wat soms ’n bitter smaak tot gevolg kon hê. Die proses om dit te sout, het dan gehelp om van die bitter smaak te onttrek. Deesdae word die eiervrug jonger gepluk en is dit nie nodig om eers te sout nie. As jy dalk ’n patee daarmee wil maak, kan die sout help om oortollige vloeistof te onttrek, maar selfs dan is dit nie noodsaaklik nie.

 

Vraag 3: Wat is die beste gaarmaakmetode vir eiervrug?

Antwoord: Om dit in dik skywe of wiggies te sny, bietjie olyfolie oor te sprinkel en dan te rooster, oor die kole te braai (soos ’n steak) of selfs in ’n lugbraaier gaar te maak, werk uitstekend. Dit laat die binnekant heerlik sag word en perfek karamelliseer terwyl dit ’n goudbruin kleur kry. Eiervrug kan ook in die pan gebraai word, maar dit vra gewoonlik meer olie, omdat eiervrug se tekstuur baie sponserig is – amper soos die van sampioene. Die ander opsie is om dit in blokkies te sny en in ’n sous te laat prut tot dit sag is, bv as deel van ’n bredie of eenskottelgereg. Die binnekant word steeds heerlik sag en absobeer al die geure heerlik.

 

So, of jy ook lief is vir eiervrug en of jy dit nog nooit of min gaargemaak het, probeer gerus dié maklike en eenvoudige, maar smullekker resep van Heleen. Die geroosterde smaak is smullekker met die jogurt, suurlemoen en kruie waarmee dit voorgesit word.

 

Geroosterde eiervrug met ’n jogurtsous

Resep deur Heleen Meyer

Lewer 4 – 6 porsies

 

4 middelslag-eiervrug, in dik wiggies gesny

60 ml (¼ k) olyfolie

sout en peper

250 ml (1 k) ongegeurde dubbelroom jogurt

30 ml (2 e) gekapte vars kruisement

30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie

10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil

1 skyf fetakaas, gekrummel

’n groot handvol rooibosbessies (of granaatpitte, wanneer dit in seisoen is)

ekstra kruie om mee voor te sit

 

1. Voorverhit oond tot 200 °C. Plaas die eiervrug in ’n groot mengbak, skink die olie oor. Geur na smaak en skud die bak om die eiervrug met die olie te bedek.

2. Plaas die eiervrug op ’n groot bakplaat of in ’n vlak oondbak.

3. Rooster 30 minute of tot die eiervrug goudbruin en gaar is. Of rooster vir nog 5-10 minute, maar wees versigtig om dit nie té ver rooster nie, want dan word dit pap en val uitmekaar.

4. Geur intussen die jogurt met die kruie, suurlemoenskil en peper en roer die fetakaas by.

5. Garneer die eiervrug met die rooibosbessies en kruie. Sit warm of teen kamertemperatuur met die jogurtsous voor. Die gereg is perfek met geroosterde hoender of lamsvleis.

 

Wenke:

1. As jy regtig nie van eiervrug hou nie, kan kleinerige patats in die skil, op dieselfde manier gerooster en voorgesit word.

2. Rooster eiervrug oor matige tot warm kole, of in die lugbraaier tee 200 °C vir 10-12 minute.

Besoek Heleen se webwerf vir nog resepte soos hierdie: https://heleenmeyer.co.za

Foto deur Adel Ferreira

 

Back to blog