Dié bekende groente is perfekte herfskos – van die kleur tot alles wat jy daarmee kan maak.
Veelsydige stysel
Butternut? Nee, die mooi Afrikaanse woord daarvoor, is botterskorsie.
Dié bekende groente is verseker ideaal vir baie meer as net ’n bakkie vol sop! Dis so ’n veelsydige groente, want die natuurlike soet smaak is heerlik, of jy dit kook, rooster of rasper en in ’n maalvleismengsel gebruik. Onthou, dit bly ’n styselryke groente, so vul jou ete verder met lae-stylsel bykosse aan, soos ’n slaai of groen groente. Omdat dit reeds stysel bevat, hoef jy nie nog aartappels, rys of patats ook op jou bord te hê nie.
Botterskorsie kan met soveel geure gekombineer word. Van vars kruie tot speserye, knoffel, gemmer, suurlemoen, balsamiese asyn, spek en selfs peule, neute, sade en verskillende kase is heerlik daarmee saam.
Beste wenke met botterskorsie
1. Sukkel jy om ’n botterskorsie te skil? ’n Skerp groenteskiller is baie effektiewer as ’n groentemes. Of rooster jong botterskorsies sommer met die skil aan – dis heerlik!
2. Skep die pitte met ’n stewige, ronde metaallepel of metaal-roomyslepel uit – dit werk soveel makliker as om dit te probeer uitsny.
3. Onthou, die pitte en skille is ideal vir ’n wurmplaas of komposhoop, so moenie dit net weggooi nie.
4. As jou hande styf voel en oranje is na jy met botterskorsie gewerk het, was dit in warm seepwater en skrop met ’n naelborseltjie of die growwe kant van ’n wassponsie.
Die slaai is ’n ongelooflike lekker bygereg, maar kan ewe suksesvol as voorgereg voorgesit word. Geroosterde beet en botterskorsie is altyd gewild en die soeter smake daarvan balanseer perfek met die pikante smaak van bokmelkkaas en die aromatiese geure van dukkah. Sny die beet en botterskorsie in min of meer ewe groot stukke – dit lyk mooier so op die slaaibord en rooster dan in dieselfde tyd.
Die slaaisous is so eenvoudig, maar besonder lekker. Maak sommer van die begin af ’n dubbele mengsel en jou dit in jou yskas. Dis ekstra lekker oor enige groen slaai of geroosterde groente. Of rooster klein tamaties en uie daarin om as ’n bygereg voor te sit.
Botterskorsie-&-bokmelkkaasslaai
Resep deur Heleen Meyer, aangepas uit Maak vyf
Lewer 4 – 6 porsies
Slaaisous
100 ml olyfolie
45 ml (3 e) balsamiese asyn
sap van 1 lemoen of 45-60 ml (3-4 e) gekoopte lemoensap
15 ml (1 e) heuning
sout en peper na smaak
Slaai
500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
500 g beet, geskil en in wiggies gesny
100-150 g gemengde vars slaaiblare, met roket- en klein beet- of spinasieblare
2 sprietuie, in dun skyfies gesny
100 g bokmelk- of fetakaas, gekrummel
75 ml (5 e) dukkah (gekoop of tuisgemaak, sien www.heleenmeyer.co.za vir ’n maklike resep)
1. Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en geur na smaak. Skud dit sommer in ’n leë glasflessie saam en hou die orige in die yskas.
2. Slaai: Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas botterskorsie op die een helfte van ’n groot bakplaat en die beet aan die ander kant, sodat dit nie met mekaar meng nie.
3. Giet ’n derde van die slaaisous oor die groentes en rooster vir 30-40 minute of tot dit gaar is.
4. Pak die slaaiblare op ’n groot slaaibord of op individuele slaaiborde. Rangskik botterskorsie en beet apart bo-op en strooi die sprietuie en kaas oor. Sit met die dukkah en orige slaaisous voor.
5. Die slaai kan warm of teen kamertemperatuur voorgesit word.
Wenk:
1. Vervang die dukkah met gekapte neute van jou keuse of ’n mengsel van neute en sade soos sesam- of sonneblomsaad, wat eers in ’n pan gerooster is.
Visit Heleen’s website (www.heleenmeyer.co.za) for more recipes like this.
Foto by Adel Ferreira vir LiG Tydskrif